Kierang-geselspoppe

Kierang-geselspoppe

PIEREWAAIER (die volstruis-lafentelhaan)

Hy glo dat hy van die slim soort volstruise is wat nie hulleself versmoor deur kop in die sand te steek nie. Verder weier hy om te glo dat daar dinosorusse in sy voorgeslagte kon wees. Hy is eerder oortuig dat alhoewel sy voorouers egte volstruise was, sy ma nie meer een is nie, vanwee al haar gediëetery … sy is net halfvol … dus ‘n halfvolstruis!

RONDKUIER POPPE

In hierdie groep val onder andere die TANDMUIS. Hy is nie bedoel vir ‘n verhoog of optrede voor ‘n groot gehoor nie. Ons stap met hom by markte, feeste en kermisse rond van een gesinnetjie tot ‘n ander en gesels verkieslik met die gesin se pa. (Ons beskou dit as onvanpas vir ‘n vreemde ou om sommer onbekende vrouens en kinders tromp-op te loop en uit die bloute uit ongevraagde geselsies aan te knoop.) 

In die geval van die TANDMUIS, “herken” hy die gesin se pa as daardie haasbek tjokkertjie met wie hy mos jare gelede tande transaksies gedoen het. Hy lap dan van die pa se streke uit sy kleintyd aan sy gesin uit … sodat hulle dan almal hierdie ontmoeting kan geniet.

UIT-DIE-VUIS

Hierdie is een van ‘n groepie onkonvensionele karakters. Hy gesels uit die vuis uit in idiome, want hy speel graag met die mooi Afrikaanse spreekwoorde en gesegdes en wys ons daardeur hoe mooi kleurvol ons taal is. (Terwyl hy op spreekwoorde en gesegdes wat te make het met hande konsentreer, spesialiseer sy ander onkonvensionele maatjies nou weer op spreekwoorde met ander temas.)

Omrede sy aanbiedings dikwels met die ernstiger taalkuns te make het, word hy (en sy mede-spreekwoord maats) selfs vir meer ernstige geleenthede gebruik, soos taalfeeste en woordkuns-geleenthede.