Kierang-geselspoppe

Kierang-geselspoppe

KIERANG

(Die baaspop, seremoniemeester en alles wat belangrik is.)

Alhoewel my naam blykbaar ‘n woord is wat uit die Maleise taal verleen is, is dit deesdae so Afrikaans as kan kom. Dit verwys na talle van my eienskappe soos wysneus wees, gekskeer, poetse bak, draaksteek, fop, kul, vol grappies, streke, slenters en toertjies te wees en kanse te vat wanneer die geleentheid dit  voordoen.

Kierang in sy formele bosveld aandpak, geniet een van sy wyshede saam met sy algemene helper en lakei, Klaas

… en voor ek vergeet … ek wil nou nie uit my beurt uit praat nie, en die risiko loop dat my neus dalk verder groei as ek jok nie, maar dit lyk vir my so al of ek die trotse lang familie-neus by daardie bekende pop van wie daar boeke geskryf is en films gemaak is, geërf het. Ek wil nou nie met name begin spog nie, maar sy naam begin mos met ‘n “PIEN” en rym met “-OKIOE”, as ek dit nie mis het nie.

 

Ek wil nou nie skinder nie, maar daar word blykbaar daarbuite rond rondvertel ek het:

  • ‘n NEUS VIR ‘n FEES!
  • ‘n NEUS VIR NIES! (… of is dit nuus?)
  • ‘n NEUS VIR SKUBA-DUIK … wanneer ek op my rug swem!